
News Article
Altech gaan die winsskip draai met geleenthede in Afrika wat wink
Altech verwag om vanjaar bykans al sy oorblywende kontant – nadat voorsiening gemaak is vir sy dividend- en belastingverpligtinge – te gebruik vir verkrygings.
So sê mnr. Craig Venter, uitvoerende hoof. “Ons is nie van plan om af te wyk van ons kernvaardighede nie en die beoogde verkrygings – wat almal betreklik groot is – sal waarskynlik op die gebied van telekommunikasie en inligtingstegnologie wees met Afrika as ‘n belangrike teikengebied, “ sê hy.
Die maatskappy beskik oor kontantbates van sowat R1,5 miljard. ‘n Transaksie van “middelmatige omvang” – die verkryging van MobilMaster, ‘n afdeling van die genoteerde Franse Maatskappy Linedata e – is feitlik afgehandel. Sekere opskortende voorwaardes moet nog nagekom word.
“MobilMaster is een van die drie grootste verskaffers van internetprotokol-verrekeningestelsels ter wêreld en is geskik vir enige netwerk, hetsy vastelyn-stem, mobiele-stem of breëband. In Afrika het die maatskappy noemenswaardige blootstelling aan die groei in selfoondienste. Ons hoop om die sukses wat hy in die verlede hiermee behaal het, voort te sit,” sê Venter.
Hy verwag dat mobiele en breëband-aanwendings oor die volgende drie tot vyf jaar stewig sal groei, maar sê Altech sal liefs nie betrokke raak by die verskaffing van infrastruktuur vir Telkom se pogings om die gebruik van breëband te bevorder nie.
Telkom is besig om, in samewerking met Alcatel van Frankryk en Microsoft, aanvoorwerk te doen om die lewensvatbaarheid van televisie-uitsending oor sy ADSL-breëbandlyne te toets.
“Ons was voorheen in vernnootskap met Alcatel betrokke by die verskaffing van telekommunikasie-infrastruktuur, maar het aan die vennootskap onttrek. Ons beskou die breëbandmark nietemin as ‘n aantreklike geleentheid en sal graag op een of ander wyse daarby betrokke wil wees.”
Die groei in Altech se omset en bedryfswins in die 12 maande tot einde Februarie is aan bande gelê deur die swak prestasie van NamITech, die onderneming wat verlede jaar van Nampak verkry is.
Altech se omset was byna 9% hoer op R6,04 miljard (2005 – R5,55 miljard) en die bedryfswins het met 1,2% gedaal tot R485 miljoen (R491 miljoen).
Die wesensverdienste per aandeel het met 12% gestyg tot 379c (338c).
“Die krag van die rand en bestuursaangeleenthede het NamITech se Suid-Afrikaanse bedrywighede geknou en die maatskappy het ‘n verlies getoon. Weens dié swak prestasie en die sluiting van sekere bedrywighede is ‘n afskrywing aan klandisiewaarde van R82 miljoen in Altech se inkomstestaat gedoen. Regstellende stappe is egter ingestel en ek is vol vertroue dat die grondslag gelê is vir ‘n goeie jaar,” sê Venter.
NamITech vervaardig SIM-kaarte, voorafbetaalde koopbewyse en elektroniese verrekeningskaarte.
Die bekendstelling binnekort van Europay / MasterCard / Visa (EMV)-versoenbare slimkaarte in Suid-Afrika sal na verwagting ‘n groot bydrae lewer tot die maatskappy se toekomstige sukses.
“Voorts maak die nuwe vervaardingsgerief vir voorafbetaalde koopbewyse wat ons in Augustus verlede jaar in Lagos, Nigerië, geopen het, reeds ‘n wins,” sê Venter.
Altech se ander bedrywighede en veral sy hoofafdeling – telekommunikasie – het ‘n puik jaar agter die rug. Die telekommunikasieafdeling het driekwart van die groep se inkomste en 89% tot sy bedryfswins bygedra.
Sy winsgrens het met ‘n persentasiepunt tot 9,5% gestyg.
“Verskeie maatskappye in dié afdeling het ver bó die verwagting gepresteer. Netstar se bedryfswins het byvoorbeeld met sowat 70% gestyg en dié van Autopage Cellular met sowat 50%. Ook die multimedia- en elektroniese afdeling het goed gevaar, onder meer omdat Altech UEC Multimedia goeie resultate gehaal het ná sy verlies die vorige jaar,” sê Venter.
Wat UEC betref, het dit veral baat gevind by die bekendstelling deur MultiChoice van sy dubbel-beeld-PVR-dekodeerder wat inkomste van R70 miljoen in een kwartaal opgelewer het.
Venter sê die vooruitsigte vanjaar vir Altech is goed, gegrond op die maatskappy se stewige bestelboek van R855 miljoen, die voortgesette liberalisering van die telekommunikasiemark, verkrygings, en die verwagte herstel by NamITech vanjaar.
“As alles volgens plan verloop, verwag ek dat ons wesensverdienste per aandeel vanjaar met sowat 30% sal styg,” sê Venter.
David van Biljon
|