| |
|
|
News Article
Kommersiële Eiendom roer die stygpot
Kommentaar Sake-Rapport - 19 Feb 2006
David van Rooyen skryf die aanhaling hierbo toe aan die wesenlike verskil tussen kommersiële eiendom en residensiële eiendom, nl. die mag van die huurder. Die algemene toedrag by kommersiële eiendom is die aanwesigheid van langtermyn-huurooreenkomste, meestal gedetaileerd en beskermend teenoor die verhuurder, terwyl by residensiële eiendom huurooreenkomste meestal jaarliks van periode is, en uitsetting by wanbetaling problematies is/oor die jare geword het. Hy maak hierdie stelling vanweë inligting openbaar deur mnr. Deon Feinblum, ‘n direkteur van ApexHi Properties, ‘n leningseffektemaatskappy wat een van die uitgebreidste portefuljes in Suid-Afrika bestuur.
In sy verdere opinie soos uitgebeeld in gemelde artikel, dui hy aan dat daar huidiglik veel gunstiger toestande heers in die verhuringsmark. Wat die ooreenstemming hiermee met Bluezone betref, behalwe vanselfsprekend vir die feit dat hoe gunstiger die verhuringsmark is, hoe minder riskant die belegging in kommersiële eiendom (aangesien die rente-inkomste gegenereer word vanuit huurinkomste), is die feit dat die produk so gestruktureer is dat die belegger tot ‘n groot mate die huurbedrag wat die huurder moet betaal, kan reguleer by wyse van onder andere algemene jaarvergaderings waarop hierdie aspekte bespreek kan word, en ook die inherente reg van die aandeelhouers/beleggers, om die eiendomsbestuurs instansie wie verantwoordelik is vir die dag-tot-dag bestuur van die eiendom, te vervang.
Hy voer aan dat huurders huidiglik nie wegskram van 10% eskalasie klousules nie, waar dit anders was ‘n paar jaar gelede toe daar nog ‘n ooraanbod van kantoorspasie beskikbaar was, en huurders soms die verhuurder kon dwing tot laer eskalasies.
Voorts maak hy die stelling dat ApexHi daarin geslaag het om 70% van die huurkontrakte wat in die tydperk einde Desember 2005 verstryk het, te hernieu. Kliënte wie na ander kantoorruimte moet trek, moet meer opdok vir huur, aangesien ontwikkelaars deur die koste van ontwikkelings gedwing word om nuwe kantoorruimte vir meer te verhuur as bestaande ruimte. Sodanige huur/m² varieer soms met R30/m².
Die eiendomsbestuurder Gensec, berig dat hy in die laaste ses maande net in Johannesburg se middestad, kontrakte van R30 milj gesluit het. Die groep beweer hulle het navrae van 30 000 m² se ruimte ontvang. Volgens hulle het die gemiddelde huurgeld in die Johannesburgse middestad toegeneem van R39 tot R45/m² (15% styging). Die leegstaan-faktor van geboue in voormelde middestad het afgeneem vanaf 28% in die jaar 2000, tot 13% huidiglik berig Veesa (Vereniging van eiendomseienaars).
Voormelde is maar net ‘n bevestiging dat daar huidiglik ‘n groot behoefte aan kommersiële eiendom bestaan, en die aanduidings is daar dat dit nog lank so gaan wees.
Izak van Niekerk
Bluezone Property Investments Edms Bpk. |
|
|