| |
|
|
News Article
Groot blomtyd kom nog vir Kaap se middestad
Sake Burger - 13 Maart 2006
Theuns vand der Westhuizen skryf in hierdie artikel dat die sentrale sakegebied van die Moederstad 'n groeifase beleef, veral wat betref die besetting van kommersiële eiendom.
Hy noem dat, n.a.v. 'n peiling deur SAPOA (South African Property Owners Association) in Februarie 2006 gedoen, die % van A-Graad kommersiële eiendomme in die middestad wat leegstaan, gedaal het vanaf 10% in 2004, tot sowat 4,3% in Februarie 2006. Die hoeveelheid Graad B-eiendomme wat in die ooreenstemmende tydperk leeggestaan het, het afgeneem van 15,2% tot 8,2%.
Mnr. Andrew Boraine, hoof van die Kaapse Vennootskap, beweer hierdie is die beste syfers nog sedert die vroeëre tagtigerjare. Hy beklemtoon die feit dat die middestad nie 'n eiland is nie, maar 'n integrale deel vorm van die metropolitaanse en provinsiale ekonomie. Die kaapse ekonomie maak al hoe meer staat op die dienstesektor. Altesame 63% van die nuwe ekonomiese groei tussen 1995 en 2004, het byvoorbeeld uit die finansiële en sakedienste, groot-en-kleinhandel en verversings-en-akkomodasie-sektor gekom. Hy beweer hierdie sektore sorg tans vir 49% van die Kaapse ekonomie, en vir 37% van die werksgeleenthede. Hy sê verder dat as daar gaan kyk word na die strategiese rol van die middestad, word besef dat dié gebied met sy finansiële dienste en 1200 winkels, die tuiste van die vinnigste groeiende ekonomiese sektore is.
Swart ekonomiese bemagtiging is nog 'n belangrike komponent van 'n gedeelde groeistrategie in die middestad. 'n Groot getal eiendomme in die middestad het die afgelope 5 jaar van eienaars verwissel, en minstens 40% van die vernaamste geboue in die gebied behoort nou aan Swartbemagtigingsgroepe. Maatskappye in swart besit het sedert 2003 ook deel gehad in meer as R2 miljard se eiendomsontwikkeling. Die vooruitsigte vir verdere ontwikkeling in die oostelike deel van die stad, en die Culemborg gebied, lyk goed. Hy sluit af deur te noem dat sowat 50% van alle nuwe kleinhandelaars wat in die middestad bedrywig is, is swart.
Een van die afleidings wat gemaak kan word uit bogemelde beriggewing, is die feit dat dit blyk dat die % besette kommersiële eiendom, en nog meer spesifiek, die behoefte daarna, groei soos wat die verskeie sektore in onderskeie besigheids-areas groei, en meer mense hulself toevoeg tot die formele besigheidsektor.
Kommentaar - Izak van Niekerk
Bluezone Property Investments Pty Ltd
|
|
|